In 2006/'07 was die volume van landbouproduksie hoër as die vorige jaar, boerdery-inkomste het aansienlik gestyg en die kontantvloei van boere het dramaties verbeter, aldus die Deparetment van Landbou se ekonomies oorsig vir die twaalf maande tot 30 Junie 2007.
In die amptelike verslag oor neigings in die landbou in dié tyd sê die departement die kontantvloei van boere was R27,5 miljard vergeleke met R14,4 miljard die vorige 12 maande 'n toename van 91 %. Die bruto inkomste van produsente was R89 miljard, 'n verbetering van 24,9 % teenoor die vorige jaar se R71,2 miljard. Landbouproduksie was in dieselfde tyd 1,1 % hoër.
Volgens die verslag het die produsentepryse van landbouprodukte met gemiddeld 21,8 % toegeneem. Die prys van somergraan, oliesade en suiker het met onderskeidelik 99 %, 78 % en 12 % toegeneem terwyl tuinbouprodukte 5 % duurder was en diereprodukte se pryse met 16 % toegeneem het. Melkprodukte was 15 % meer.
Aan die uitgawe-kant was daar 'n toename van 9,6 % van R42,6 miljard in 2005/06 tot R46,7 miljard verlede jaar. Uitgawes aan kunsmis en dienste het die grootste toename getoon 24,4 % en 12 % onderskeidelik.
Die grootste uitgawe was veevoer wat 28,8 % van alle uitgawes verteenwoordig.
Die netto plaasinkomste het met 107 % toegeneem en was R26,4 miljard. Salarisse en lone (16,9 % van koste) was R10,3 miljard en rente aan banke en finansiers was R3,9 miljard (6,1 % van koste).
Die waarde van kapitale bates in die landbou was op 30 Junie 2007 geraam op R161,1 miljard 8,7 % meer as in Junie 2006. Grond en vaste verbeteringe was R100,9 miljard, masjinerie en werktuie R28,7 miljard en vee R34,4 miljard van die totale waarde.
Volgens die verslag was plaasskuld op 30 Junie 2007 'n geraamde R39,1 miljard 6,8 % meer as 'n jaar vroeër.
Landbouweekblad, 22 Februarie 2008