Wolboere behoort die gedragskode vir goeie praktyke heelhartig te ondersteun, omdat dit baie belangrik vir die bemarking van Suid-Afrikaanse wol is, het mnr. Hendrik Botha, voorsitter van die NWKV in KwaZulu-Natal, op die streekvergaderings in die provinsie gesê.
Die NWKV het gedragskode reeds aanvaar en daar word nou van wolboere verwag om dit te onderteken. Daarin verklaar hulle dat hulle nie kinderarbeid gebruik nie, nie verder as 20 km per dag met skape trek nie, die skape vir 'n tyd in die skeerhuis hou nadat hulle geskeer is, hulle altyd toegang tot water bied en nie Mules se operasie vir die beheer van brommers toepas nie.
Botha het boere aangemoedig om die kode te ondersteun, aangesien dit sal toon die plaaslike wolbedryf is verantwoordelik met dieregesondheid en die gehalte van produkte, volhoubare natuurlike hulpbronbestuur ondersteun en sosiale verantwoordelikheid het.
Hy sê Suid-Afrika se woluitvoer na China het sterk gestyg en beslaan nou meer as 26% van alle uitvoer. Dié syfer vir 2006/'07 is 8% meer as die vorige seisoen se 18,4%. Italië (19,7%) is tweede op die lys van uitvoerbestemmings, gevolg deur Tsjeggië (16,2%), Duitsland (12,6%), Indië (5,1%), Brittanje (4%), Spanje (2,4%), Frankryk (1,7%) en Amerika (1,3%). Die oorblywende 5% gaan na ander lande.
Suid-Afrika se uitvoer het 7% toegeneem, gemeet aan die vorige seisoen, terwyl Argentinië se uitvoer met 18% gestyg het, Uruguay s'n met 16 % en Australië s'n met 2 %. Suid-Afrika se uitvoer van skoonwol is sowat 20 miljoen kg teenoor Australië se 230 miljoen kg.
Uit Landbouweekblad, 22 Februarie 2008