Die koringprys het vir die eerste keer in die geskiedenis deur die grens van R4 000/t gebars.
"Dit voorspel niks goeds vir die meel- en broodprys in die komende maande nie," het die uitvoerende direkteur van die SA Meulenaarskamer, mnr. Jannie de Villiers, gesê nadat die Safex-koringprys vir lewering in Maart 2008 vanoggend (18 Februarie) op dié rekordprys gesluit het. Die prys het vroeër die oggend selfs tot so hoog as R4 030/t verhandel.
"Ons staar 'n dilemma in die gesig," het De Villiers gesê. "Met die huidige tekorte is dit baie moeilik om koring van geskikte gehalte internasionaal te vind. Amerikaanse koring van beter gehalte verhandel teen R7 250/t, terwyl goedkoper Duitse koring teen R4 200/t gekoop kan word."
Die Argentynse regering het besluit om nie hul huidige koringvoorrade, wat teen R3 640/t gewaardeer word, te verkoop nie.
Die voorraadsituasie kan moontlik binnekort verbeter wanneer die Noordelike Halfrond in Junie/Julie 2008 begin oes.
De Villiers sê dit is 'n groot uitdaging om meulens aan die gang te hou met sulke duur koring, gekoppel aan die kragonderbrekings van die laaste tyd. "Ons sal ons beste probeer om toe te sien dat daar genoeg brood en mieliemeel op die rakke is."
Regerings regoor die wêreld worstel tans met hoë voedselpryse as gevolg van graantekorte. Suid-Afrika het die afgelope jaar 1,77 miljoen ton koring geproduseer, vergeleke met 'n verbruik van 2,8 miljoen ton.
18 Februarie 2008