Landbou
Steun vir opkomende boere
Deur SUSAN BOTES

Landbouminister Lulu Xingwana het Maandag, 18 Februarie, amptelik die Settlement and Implementation Support (SIS) strategie in Pretoria bekend gestel.

Die strategie word hoofsaaklik deur België befonds, wat die afgelope deekade meer as 20 miljoen euro, oftewel R223,5 miljoen, tot grondhervorming in Suid-Afrika bygedra het.

Omtrent die helfte van alle opkomende boere kan nie die mas opkom nie, het mnr. Tozi Gwanya, waarnemende hoofkommissaris van Grondeise, gesê. "Daar is 'n groot behoefte aan ondersteuning vir hervestiging, wat hervorming volhoubaar sal maak. "

Xingwana het Gwanya se woorde ondersteun deur te sê dat ondersteuning nadat grond oorgedra is van kardinale belang is tot grondhervorming.

Die Belgiese ambassadeur in Suid-Afrika, mnr. Jan Mutton, het gesê dat grondhervorming in Suid-Afrika baie belangrik vir België is, aangesien stabiliteit vir die hele wêreld tot voordeel strek.

19 Februarie 2008