Landbou
Mode-skok oor Mules-operasie


In 'n belangwekkende verwikkeling vir die internasionale wolbedryf het die Sweedse modehuis H&M aangekondig dat hy sy aankope van wol gaan verskuif van Australië na lande wat kan waarborg dat die omstrede Mules se operasie nie daar toegepas word nie.

Dit het 'n spesiale taakspan van die Australiese skaapbedryf vandeesweek genoop om dringend na Europa te vlieg vir 'n vergadering met H&M.

Trouens, die taakspan het selfs tot die ongewone stap oorgegaan om die media te versoek om omsigtig oor die aangeleentheid verslag te doen.

Die Mules se operasie is 'n praktyk waar die vel rondom die vulva van ooilammers, sonder verdowing, verwyder word. Wanneer dit genees, vorm dit 'n wolvrye deel om die vulva. Dit voorkom wurmbesmetting weens nat wol.

Australiese wolleiers het in November 2004 eenparig besluit om dié praktyk teen 31 Desember 1010 heeltemal uit te faseer.

In 2005 is 'n ooreenkoms met die VSA se nasionale kleinhandelvereniging (NRF) aangegaan waarin uitgestippel is wat gedoen gaan word om die Mules se operasie uit te skakel. Volgens Australiese wolbedryfsleiers het die NRF en sy lede, insluitend H&M, ingestem om op grond van hierdie onderneming voort te gaan om Australiese wol te koop.

Die bedryf is op koers om sy beloftes na te kom, maar om dié praktyk nou summier te stop, sonder enige alternatiewe, sal soveel skape blootstel aan 'n skrikwekkende en pynlike dood waar hulle lewend deur wurms opgevreet word, is gesê.

  • (Bron: The Land, Australië.)