Landbou
'Los grond, gee krag'


Finansminister Trevor Manuel moet eerder fokus op die hervorming van die elektrisiteitsbedryf, en alle moontlike staatsfondse dáárvoor aanwend, eerder as om nog meer begrotingsgeld in twyfelagtige grondherverdelingsprojekte te pomp.

Die voorsitter van die TLU SA, mnr. Paul van der Walt, het aan die vooraand van Manuel se begroting gevra dat die minister 'n moratorium plaas op enige verdere geld aan grondherverdeling, en daardie fondse gebruik om Eskom te herkapitaliseer sodat hy noodsaaklike instandhouding en uitbreidings aan sy opwekvermoë kan doen.

Dit sluit fondse vir grondhervorming in wat in vorige begrotings toegeken is en nog nie gebruik is nie. "Die ekonomie het nou eers behoefte dat daardie uiters noodsaaklike diens, naamlik dié van kragvoorsiening, op peil moet kom."

Van der Walt sê op hierdie wyse kan die verbruiker ook gespaar bly van die buitensporige tariefverhoging wat Eskom aangekondig het, en wat die boer en die verbruikers in die algemeen nie kan bekostig nie.

In die lig van 'n waarskynlike prysverhoging wat 'n liter brandstof aanstaande maand tot soveel as R8/liter kan laat kos, word stappe nou genoodsaak om die verbruiker op ander terreine tegemoet te kom, sê Van der Walt.

"Hierdie oproep word ondersteun deur die uitlatings van Koning Goodwill Zwelithini gister, toe hy in die openbaar gesê het dat grondhervorming daartoe lei dat voorheen produktiewe grond nutteloos word."

Volgens berigte het die koning gesê "die krismisboom-benadering van die teruggee van grond wat vroeër aan swart mense behoort het, moet ophou. Stamgrond is vroeër aan mense gegee om dit te bewerk, maar ek sien ál meer dat grond wat die regering koop en aan swart mense toeken, onbenut bly."

Mnr. Van der Walt sê dat as Koning Zwelithini, wat weet wat in die swart gemeenskap aangaan, só 'n waarskuwing rig, flikker ernstige waarskuwingsligte. "Dié bewerings moet ondersoek word en die gevalle waarna hy verwys, tot op die been toe oopgevlek word. Daarom sal dit roekeloos wees as Manuel nog 'n ekstra sent uit die belastingkas daarin laat gaan voordat daardie ondersoek nie afgehandel is nie. Intussen kan die ander noodsaaklike infrastruktuur daarmee befonds word," sê Van der Walt.

19 Februarie 2008