Landbou
VSA-bakkers beoog protes
Deur MARLEEN SMITH

Amerika se bakkers beplan 'n reuse-opmars na Washington om regeringsoptrede ter verligting van die "koringkrisis" te eis.

Protesteerders in die "Bakers March", op 12 Maart, sal onder meer eis dat koring-uitvoer ingekort word totdat hulle tevrede is dat die Amerikaanse voorraad in die binnelandse behoefte kan voorsien.

Dit kom kort op die hakke van die Amerikaanse landbou-departement (USDA) se aankondiging dat die land se opgehoopte koringvoorraad teen einde Mei, die einde van die bemarkingjaar, sy laagste vlak sedert 1948 behoort te bereik. Die wêreldwye voorraad sal teen dan tot op 109,7 miljoen ton, die laagste sedert 1978, geval het, verwag die USDA.

Amerika is die wêreld se grootste koring-uitvoerder, en pryse wêreldwyd het in reaksie op die USDA-aankondiging opnuut die hoogte in geskiet.

Ernstige kommer heers oor die politieke en sosiale gevolge van die verwagte kos-inflasie. Lande soos Argentinië het reeds uitvoer begin inkort om hul binnelandse kospryse laag te probeer hou. Veral koring van hoë gehalte, waarmee brood en pasta gemaak word, is skaars.

Die American Bakers Association (ABA), wat 80% van alle Amerikaanse fabrieksbakkers en hul verskaffers verteenwoordig, organiseer die optog na Capitol Hill.

20 Februarie 2008