Landbou
Agri SA en ANC-leiers praat
Deur CHRIS JOOSTE

Agri SA het reeds 'n afspraak om met mnr. Jacob Zuma, ANC-president, en die nuwe hoofleiers in die ANC te praat oor samewerking in die veranderende politieke arena en in die toekoms, sê mnr. Lourie Bosman, voorsitter van Agri SA.

Hy het in Philippolis op 'n boeredag van die Philippolis-landbouvereniging gesê hy is bemoedig deur gesprekke tussen hom en dr. Mathews Phosa, tesourier-generaal van die ANC. 'n Gees van welwillendheid bestaan by die nuwe leiers om 'n nuwe Suid-Afrika te skep.

Hulle het ná die ANC-kongres in Polokwane en die vervanging van die ou partyleiers gepraat. 'n Afspraak is ook met die nuwe ANC-leierskap gereël.

Bosman sê hy en Phosa het oor kundigheid in die landbou en die aanstelling van ministers met kundigheid gepraat. Phosa het gesê die ANC-leierskap wil met mense op grondvlak saamwerk en besef terdeë wat die probleme is. Hy vra openhartige gesprekke oor die landbou.

20 Februarie 2008