Landbou
GM-aanplantings groei in SA
Deur NICO VAN BURICK

Die aanplanting van geneties gemodifiseerde (GM) gewasse in Suid-Afrika het verlede jaar met 30% toegeneem - meer as twee keer soveel as die gemiddelde wêreldwye toename van 12%.

Dié syfers is pas bekend deur die internasionale diens vir die bevordering van landbou-biotegnologie, die International Service for the Acquisition of Agri-Biotech Applications (ISAAA), wat jaarliks statistiek oor biotegnologie in die landbou versamel.

In Suid-Afrika - die enigste Afrika-land waar GM-gewasse kommersieel verbou word, was 1,8 miljoen ha in 2007 onder GM-gewasse. Volgens ISAAA behoort Burkino Faso en Egipte die volgende lande in Afrika te wees om Suid-Afrika se voorbeeld te volg.

Volgens die verslag het die die aantal hektare onder GM- gewasse wêreldwyd toegeneem tot 114 miljoen ha. Altesaam 12 miljoen boere - 2 miljoen meer as die vorige jaar - het die tegnologie benut.

Indië het in dié tyd die grootste proporsionele groei getoon met 'n 63% toename tot 6,2 miljoen ha se GM-katoen, terwyl die algehele groei in Brasilië die meeste was - van 3,5 miljoen ha se GM-sojabone en -katoen tot 15 miljoen ha. Europa het verlede jaar die 100 000 ha-merk verby gesteek.

20 Februarie 2008