Landbou
Land Bank wil krediet regruk
Deur JEAN-MARIE DE WAAL

Korrupsie en onbeheerde afskrywings van skuld kan dalk in die nabye toekoms net 'n onaangename herinnering vir die Land Bank wees.

Die bank se kredietproses gaan gesentraliseer word, wat beteken dat dit minstens deur vyf vlakke van goedkeurings sal moet gaan en nie meer deur individue beheer kan word nie. Dit is die nuutste byvoeging tot die bank se omkeerplan wat ten doel het om risiko te verlaag en winsgewendheid teweeg te bring.

Alle goedkeurings of afkeurings van lenings sal deur die kredietkomitee gemaak word.

Landbouweekblad het 'n blik op dié interne dokument gekry. Omdat dit operasioneel van aard is, wil die bank die inligting eers vir homself hou. Dit stippel nuwe bedrae uit wat elke vlak binne die bank mag goedkeur. Dit is onderhewig aan die uiteindelike goedkeuring van die kredietkomitee, top vlakke van die bank en ministerie van landbou.

20 Februarie 2008