Jaarlikse verhogings in aksynsbelasting op tabakprodukte dra grootliks by tot die groei in die verbruik van onwettige produkte wat die staatskas jaarliks beroof van sowat R1,4 miljard, het mnr. Francois van der Merwe, voorsitter en hoofbestuurder van die Tabakinstituut van SA, in reaksie op die Begroting gesê.
Hy het die Minister van Finansies, mnr. Trevor Manuel, nietemin geloof vir sy besluit om belasting op tabakprodukte op 52% te handhaaf.
Met 'n verhoging van 66c sal 'n pakkie van 20 sigarette nou R6,82 kos. Die nuwe prys van pyptabak is R2,30 vir 25g en sigarettabak styg met 43c tot R8,67 vir 50g. Die prys van sigare styg met R1,99 tot R39,72 vir 23g.
Volgens Van der Merwe word 10 miljoen onwettige sigarette daagliks in Suid-Afrika verkoop wat gesondheidsriko's verhoog omdat die produkte nie aan wetlike vereistes hoef te voldoen nie. Tabaksmokkelary is ook in Europa 'n ernstige probleem wat tot verhoogde verbruik en verlore belastinginkomste van miljarde rande lei, het Reuters verlede week berig.
20 Februarie 2008