Landbou
Dranktaks laat koppe draai
Deur AMELIA GENIS

Aksynsbelasting op wyn en sterk drank voeg jaarliks meer as R3 miljard tot die staatskas toe, terwyl boere net meer as R2 miljard verdien, sê dr. Johan van Rooyen, hoof uitvoerende beampte van die SA Wynbedryfsraad.

In die lig daarvan, behoort die Regering die wynbedryf te ondersteun met navorsing, innovasie, transformasie en die bevordering van die bedryf se beeld in die buiteland. "Die bydrae wat aksynsbelasting tot die Regering se inkomste maak, bied 'n regverdige basis om aansienlik meer geld in die bedryf terug te ploeg. "

Die verhoging van aksynsbelasting op wyn en sterk drank in die begroting het geen verrassings ingehou nie, maar wynbedryfsleiers is teleurgesteld dat die verhoging op sterk drank hoër as die inflasiekoers is.

Aksynsbelasting op alkoholiese dranke word verhoog in ooreenstemming met die beleidsbesluit om die teiken van 'n totale belastinglas (aksynsbelasting en belasting op toegevoegde waarde) van 23%, 33% en 43% op wyn, moutbier en sterk drank onderskeidelik te bereik.

21 Februarie 2008