Landbou
Begroting: Grond kry voorkeur


"Die Minister van Landbou en Grondsake, me. Lulama Xingwana, se fokus moet op voedselsekerheid vir Suid-Afrika wees. Die begroting en begrotingsneigings dui egter daarop dat haar fokus, weer eens, meer op ideologiese grondhervorming gaan wees", sê mnr. Pieter Groenewald, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor landbou en grondsake.

Die totale begroting vir haar departement (Landbou en Grondsake) is R9,19 miljard. Hiervan word slegs R2,5 miljard vir landbou begroot en R6,7 miljard vir grondsake.

Grondhervormingstoelaes verhoog vanaf R504 miljoen (2007/'08-boekjaar) na R1,7 miljard vir die nuwe finansiële jaar, 'n toename van meer as 200%. Die Landbounavorsingsraad (LNR) se begroting word egter met R24 miljoen verminder - van R801 miljoen tot R777 miljoen. Die LNR is uiters noodsaaklik vir landbounavorsing, gegewe die swak landboutoestande in Suid-Afrika. Dit is duidelik dat landbou ondergeskik gestel word aan grondhervorming, sê Groenewald.

"Volgens die begroting moet die 5 083 uitstaande restitusie-eise teen einde Maart 2011 afgehandel wees. Die vraag is egter of die minister se departement die administratiewe vermoë het om hierdie datum te haal. Die begroting verskuif ook die klem vanaf restitusie na grondhervorming. Daar is ongeveer R500 miljoen minder vir restitusie begroot, maar ongeveer R1,4 miljard meer vir grondhervorming ten opsigte van die vorige finansiële jaar. Hierdie neiging voorspel niks goed vir die landbou nie", het hy gesê.

21 Februarie 2008