Landbou
'Grondhervorming troef landbou'
JEAN-MARIE DE WAAL

Vanjaar se nasionale Begroting het nie veel verrassings ingehou nie. Nogtans meen politieke partye werklike belegging in die kommersiële landbou ontbreek en dat grondhervorming wéér die landbou oorskadu.

Woordvoerders van die partye is bekommerd dat die Departement van Landbou en die Departement van Grondsake — selfs met effense toenames in hul toekennings — weens beperkte vermoë net nie kan lewer nie.

Dr. Kraai van Niekerk, DA-woordvoerder oor landbou, sê daar is darem nie 'n vermindering in die bedrae wat aan die landbou toegeken word nie. Die fokus is steeds op hervormingslandbou met 'n fokus op die vestiging van nuwe boere.

Mnr. Pieter Groenewald, die VF Plus se woordvoerder oor landbou en grondhervorming, meen me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, se fokus behoort op voedselsekuriteit te wees. Die begrotingsneigings dui egter daarop dat haar fokus meer op ideologiese grondhervorming gaan wees, sê hy. Die totale begroting vir haar departemente (landbou en grondsake) is R9,19 miljard. Hiervan is R2,5 miljard vir die landbou en R6,7 miljard vir grondsake begroot.

Mnr. Narend Singh, die IVP se woordvoerder oor landbou en grondsake, is bekommerd oor die vermoë wat dié departemente het om bykomende finansiering te kan bestee.

Landbouweekblad, 29 Februarie 2008