Landbou
Kommer oor staat se vermoëns
SUSAN BOTES

Het Suid-Afrika die vermoë om die beskikbare geld reg te gebruik? Dit was die grootste vraag op die georganiseerde landbou se lippe ná mnr. Trevor Manuel, Minister van Finansies, se begrotingsrede.

Mnr. Tom Moodie, 'n direkteur van die TLU SA se eiendomsbeleggingsmaatskappy, was een van die mense wat op die Landbou-ekonomiese Vereniging van Suid-Afrika (Levsa) en Absa se begrotingsbyeenkoms kommer oor dié saak uitgespreek het.

Die staat se gebrekkige vermoë om kundigheid en bestuur te verbeter, is ook vir mnr. Hans van der Merwe, uitvoerende direkteur van Agri SA, 'n bron van kommer. Dit lei tot 'n onvermoë om geld doeltreffend te gebruik. Die Eskom-debakel is 'n goeie voorbeeld daarvan. "Is dit realisties om doelwitte ten opsigte van swart ekonomiese bemagtiging te probeer bereik met hierdie grootskaalse kundigheidstekorte?"

Hy beskou die styging van 14% in die prys van elektrisiteit wat Manuel in sy begrotingsrede aangekondig het as baie voorlopig. "Dit sal binne die volgende twee jaar waarskynlik met 50% styg. Tog staan dit soos 'n paal bo water dat 'n volhoubare ekonomie nie met ontoereikende krag geskep kan word nie."

Weens skaalekonomie sal grondpryse steeds styg, meen Moodie. Hy is egter bekommerd oor opkomende boere wat steeds vir 'n wyle sal moet watertrap voor hulle die nodige boerderykennis sal hê.

Uit Landbouweekblad, 29 Februarie 2008