Landbou
Manuel 'kón nie' meer gee vir grond
JEAN-MARIE DE WAAL

Die Departement van Grondsake se skynbare onvermoë om die doelwitte van grondhervorming te bereik, het daartoe gelei dat net R5,4 miljard vir die grondhervormingsprogramme in 2008/'09 begroot is.

Volgens mnr. Trevor Manuel, Minister van Finansies, kón hy nie meer as R6 miljard toeken nie. Dit is skaars 10% van die R60 miljard wat volgens mnr. Tozi Gwanya, waarnemende direkteur-generaal, nodig is om grondhervorming in Suid-Afrika mee af te handel.

Sowat R2,5 miljard is vir die landbou begroot. Dit is heelwat minder as 1% van die begrote staatsbesteding in Suid-Afrika.

Vir Suid-Afrika om uit sy groot begroting 10 % aan die landbou te bestee sal bloot nie kan gebeur nie. "Ons kan in elk geval nie 10% van ons begroting aan die landbou afstaan nie. Dán gebeur dit dalk weer soos met die droogtehulp in die ou dae — boere het gesê dit is belangrik, maar dan het talle 'n nuwe duur Duitse motor daarmee gekoop, of hul kinders se skoolgeld daaruit betaal," het hy half skertsend geantwoord.

Manuel het sy bedenkinge om só 'n groot bedrag (R60 miljard) vir grondverkryging toe te staan. "As ek een dag besluit ek gee R200 miljard vir grondhervorming en restitusie, dan gaan talle boere skielik 'n verwaarloosde stuk grond in die Kgalagadi teen R100 miljard wil verkoop." Hy sê as groot bedrae vir grondhervorming toegestaan word, sal dit later die prys in die mark begin bepaal.

Landbouweekblad, 29 Februarie 2008