Landbou
Melktekort almal se voorland
Deur JOHAN NORVAL

'n Tekort aan melk in die komende maande is die Suid-Afrikaanse verbruiker se voorland as die huidige lae prysvlakke vir produsente en die verhoging in die voerkoste voortduur.

Mnr. Koos Pienaar, voorsitter van die Vrystaatse Melkprodusente-organisasie (MPO), sê dit is duidelik dat voerkoste besig is om melkprodusente se marges onder druk te plaas en dat melkboere steeds die bedryf verlaat.

Pienaar sê melkpryse wat tans sowat R2,95 ná vervoer vir produsente oplewer, is te laag om produsente in die bedryf te hou. "Tans is invoerpariteit oor die R4,00 per liter. Verbruikers betaal tot R9,00 per liter en produsente bly onder die vlakke van R3,00 per liter met enkele uitsonderings. Produsentepryse behoort nader na invoerpariteit te beweeg ten einde melkboere op hul plase te hou. Dieselpryse en arbeidskoste wat gereguleerde pryse is, styg voortdurend en arbeid op sigself raak 'n probleem in die bedryf."

Pienaar glo dat daar 'n meer deursigtige produsenteprys behoort te wees, want dit is onaanvaarbaar dat sekere kopers in die Vrystaat boere tot so min as R2,40 per liter betaal.

27 Februarie 2008