Landbou
Eskom-skok ook vir landbou?
Deur ISABEL STOLTZ

Die Regering is op dieselfde pad met die hervestiging van nuwe boere as dié wat tot die Eskom-skokke gelei het, sê die georganiseerde landbou.

"Hy is herhaaldelik gewaarsku oor 'n tekort aan krag wat voorlê, maar het kundigheid in die wind geslaan om jare later uit te vind dit was 'n fout. Ons is op dieselfde pad met voedselsekerheid en die regering se strategie vir vestiging en implementeringsteun (SIS) bevestig dit," sê dr. Theo de Jager, voorsitter van Agri SA se grondsakekomitee.

Die georganiseerde landbou en landboubesighede is dronkgeslaan oor die doelbewuste omseiling van bestaande kommersiële landboustrukture by die opstel van dié dokument.

Dr. John Purchase, bestuurshoof van die Landboubesigheidskamer (LBK), sê dit is baie vreemd en terleurstellend dat die dokument agter toe deure met behulp van nie-regeringsorganisasies opgestel is en kommersiële landbou nie daarin geken is nie. "Ons is ongemaklik met die dokument."

  • 'n Volledige artikel oor die SIS verskyn in Landbouweekblad van 14 Maart

    27 Februarie 2008