Landbou
'Basuin grond-vordering uit'
Deur CHRIS JOOSTE

Die landbou moet meer aan die wêreld wys watter vordering al gemaak is op die gebied van die herverdeling van grond. Net die mislukkings word aan die groot klok gehang, maar mense is nie eens bewus van die suksesse wat al behaal is nie.

Dr. John Purchase, hoofbestuurder van die Landboubesigheidskamer (LBK), het Woensdag 27 Februarie, op die konferensie van die Noord-Kaapse LBK in Upington oor die finansiering van die opkomende landbou gesê die landbou moet meer op die positiewe konsentreer.

Baie mense in die landbou doen dié dinge reg en daar is baie voorbeelde van positiewe vordering wat al gemaak is. As die doelwit is om die telkaart reg te hou, is daar nie vordering nie, maar met welwillendheid word baie bereik.

Purchase het die Departement van Grondsake daarop gewys dit gebeur dikwels dat die landbou nie geken word in die opstel van dokumente en beleidstandpunte nie. Die LBK en die private sektor het baie van die nodige antwoorde en moet betrek word.

Een van die uitdagings is om hande te vat met die Departement van Grondsake om 'n databasis van alle swart boere te kry. Die amptelike syfers toon 4% van die landbougrond behoort reeds aan swart boere, maar dit is meer, want talle swart boere het lank gelede reeds grond gekoop in die ope mark.

27 Februarie 2008