Landbou
'Maak of breek vir mielies'
NICO VAN BURICK

Die Oesskattingskomitee se verwagte mielie-oes van 10,58 miljoen ton word as konserwatief gesien, maar kenners is dit eens dat die volgende week of twee 'n maak-of-breektydperk is.

Volgens die komitee se hersiene oppervlak- en eerste produksieskatting vir somergraangewasse is die oppervlakte onder mielies 2,7 miljoen ha — 7,5% meer as die 2,5 miljoen ha wat verlede seisoen aangeplant is. Die produksieskatting van wit mielies is 6,3 miljoen ton, 46% meer as die vorige seisoen en geel mielies is 4,2 miljoen ton, wat 52% meer is as verlede jaar.

Die produksieskatting vir sonneblomsaad is 686 920 ton — 'n allemintige 129% meer as die vorige seisoen. Die oppervlakte onder sonneblom is 534 300 ha — 69% meer as die vorige seisoen. "Verlede jaar se aanplantings moet nie as 'n norm gesien word nie. Hierdie is eintlik meer 'n regstelling," het mnr. Harm du Plessis van Unigrain gesê.

Hy meen die wêreldprys sal baie hoog bly en dat sonneblom vanweë die styging in produksiekoste vir baie boere 'n opsie was.

Oor mielies sê hy, hoewel die skatting as konserwatief beskou word, is die volgende week of wat die kritiese tydperk. "Daar is reeds gebiede wat swaarkry en goeie reën kan nou 'n groot verskil maak."

Landbouweekblad, 7 Maart 2008