Die Wet op die Beskikbaarstelling van Grond en Bystand (Wet 126 van 1993) gaan 'n gedaanteverwisseling ondergaan ná jare waarin dié wet byna in onbruik verval het.
Die wet maak grootliks voorsiening vir die finansiering van grondhervormingsprojekte. Nou wil die Departement van Grondsake wysigings aanbring wat die staat sal magtig om op die verkryging van grond en die ondersteuning van opkomende boere te fokus.
Me. Annelize Crosby, Agri SA se woordvoerder oor regs- en grondsake, sê dit lyk of Wet 126 gewysig word weens die probleme om die staat se strategie van pro-aktiewe grondverkryging (Plas) tot uitvoering te bring.
Mnr. Tozi Gwanya, direkteur-generaal van die departement, sê hulle sukkel om PLAS toe te pas. "Indien 100 % toelaes vir opkomende boere met die aankoop van grond toegestaan word, sal PLAS, soos dit nou staan, steeds nie met die verkryging van grond help nie."
Crosby sê dit lyk of die wet baie van die funksies oorneem wat die staat se eendoelinstelling (SPV) sou vervul. "Ek dink onderliggend aan die wet is die staat se besluit om landbougrond wat reeds in produksie is, aan te kan koop. Dit sal nou regstreeks gekoop en ontwikkel kan word, waar daar in die verlede net geld voorsien is."
Skriftelike kommentaar kan aan me. Carmen van der Merwe gestuur word.
Navrae: Tel. 012 312 9524 of e-pos: cvandermerwe@dla.gov.za.
Landbouweekblad, 7 Maart 2008