Vooruitsigte vir die wolbedryf in die Wes-Kaap is goed. Verskeie faktore werk gunstig in op die verbruik van wol en hy verwag nie 'n dramatiese daling in die wolprys in die nabye toekoms nie, het mnr. George de Kock, pas uitgetrede voorsitter van die Wes-Kaapse tak van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) op Langgewens, naby Moorreesburg, gesê.
De Kock het op die jaarvergadering van die Wes-Kaapse NWKV gesê die prys van sintetiese vesel is olieprys gebonde en met die druk op die wêreld se olievoorrade sal die olieprys steeds styg.
De Kock meen egter dat die produksie van wol weens hoër graanpryse meer onder druk gaan kom. Die hoër vraag, gekoppel aan verminderde produksie, sal tot beter wolpryse lei.
"Dit is nou 'n ideale tyd vir die wolbedryf wêreldwyd om aan die verbruiker en verwerker die voordele van wol bo sintetiese en ander natuurlike vesels uit te wys," het hy gesê.
De Kock het onlangs sy uittrede as voorsitter van die Wes-Kaapse NWKV aangekondig, en mnr. Thys Delport is in sy plek verkies.
Landbouweekblad, 7 Maart 2008