Landbou
Skaf petrolheffing af - TLU SA


Die nuus dat die brandstofprys volgende week met tot 63 sent per liter kan styg, en dat dit oor 'n maand op R8,50 te staan kan kom, hou verreikende gevolge vir die land, die ekonomie en selfs voedselsekerheid in, en die Regering sal dringend maatreëls moet oorweeg om hierdie skokke te versag, se die die voorsitter van die TLU SA, mnr. Paul van der Walt.

Die TLU SA het geen begrip daarvoor nie dat juis in 'n tyd van stygende internasionale brandstofpryse, die minister 'n bykomende heffing van 11 sent per liter op brandstof plaas. Intussen styg die lisensiegelde van voertuie ook jaarliks, terwyl die ellendige toestand van die land se paaie daarop dui dat daardie lisensiegeld nie gebruik word vir die instandhouding van infrastruktuur nie.

"Dit word vir boere al hoe moeiliker om te boer, want vervoer en brandstof is een van die groot uitgawes in die boerdery, terwyl produktepryse nie tot dieselfde mate aangepas word nie. En selfs al styg die prys van produkte, ly die verbruiker daaronder en jaag dit net weer die inflasiekoers verder op," sê Van der Walt.

Hy het 'n beroep op die Regering gedoen om ten minste die pas aangekondigde verhoging in die brandstofheffing terug te hou totdat oliepryse weer tot aanvaarbare vlakke gedaal het, terwyl die Regering ook behoort weg te doen met die lisensiegelde, waarvoor daar geen dienste gelewer word nie.

29 Februarie 2008