Landbou
GM-vermengde saad nie nadelig
Deur CHARL VAN ROOYEN

Saadmielies met tekens van GM-teenwoordigheid wat deur Pioneer na Kenia uitgevoer is, hou geen gevaar vir die mens in nie.

Die Afrikasentrum vir Biodiversiteit sê daar kom pitte van genetiese veranderde (GM) kultivars in die saad voor. GM-mielies mag nog nie daar verbou word nie. Die besending saad bevat blykbaar tekens van die GM-geeneienskap vir stronkboorderweerstand, MON810.

Die betrokke saad is reeds in 2006 na Kenia gestuur. Greenpeace het die sade "opgespoor" en monsters laat toets.

Pioneer sê hulle het wettige uitvoerpermitte vir die saad bekom. Volgens mnr. Jeff Johnson, bemarkingsbestuurder van Pioneer, word al hul saad ingevolge internasionale standaarde geproduseer en vir die teenwoordigheid van Bt-materiaal getoets voordat dit versend word.

Die kans is egter nie uitgesluit dat uiters klein hoeveelhede Bt-materiaal daarin kan beland nie. Dit beïnvloed egter geensins voedselveiligheid nie.

4 Maart 2008