Die dieselprysverhoging van 78c - die grootste enkele styging nóg - gaan boere op 'n jaargrondslag 'n allemintige R858 miljoen uit die sak jaag.
Ekonome verwag dat dit ook nie die einde van die brandstofskokke vir die jaar gaan wees nie. Met oliepryse op rekordvlakke van meer as $100 per vat en 'n randdollarwisselkoers wat baie wisselvallig is, kan enigiets gebeur. Teen die einde van Februarie was die onderverhaling op diesel R1,14 per liter en vir petrol 80c per liter.
Volgens mnr. Tony Twine, ekonoom van Econometrix, is die wisselkoers is vir boere 'n tweesnydende swaard. 'n Swak rand kan hoër inkomste oor die langer termyn beteken maar die invloed van hoër insetkoste word onmiddelik gevoel.?
Volgens Twine veroorsaak elke verandering van $1 in die olieprys 'n verandering van 7c per liter by die pomp. Vir elke verandering van 10c in die randdollarwisselkoers, is die invloed 2,2c per liter.
Die ACDP het gesê hy steun 'n versoek van TLU SA dat die Regering met die impelementering van die bykomende brandstofheffing (6c belasting en 5c padongelukkefonds) moet wag tot die internasionale oliepryse gestabliseer het.
5 Maart 2008