Graan SA gaan sy fokus plaas op nie-stapelvoedselgrane vir die vervaardiging van biobrandstof, maar sal nie ander kommoditeite uitsluit nie.
Dié besluit op Graan SA se kongres by Bothaville volg ná 'n voorstel van mnr. Koos du Plessis, hoofbestuurslid, dat die politieke werklikheid van die Regering se strategie aanvaar moet word.
Hy het gevra dit moet vir Graan SA daaroor gaan om 'n beleid in plek te kry en markruimte vir graanproduksie te skep wat vir die Regering aanvaarbaar is. Daarom moet daar klem wees op nie-stapelvoedselgrane soos byvoorbeeld graansorghum in die Noordwes-provinsie, Vrystaat, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Limpopo en korog in die Wes-Kaap.
Mnr. Neels Ferreira, voorsitter, het gesê Graan SA wou nooit voedselsekerheid in die gedrang bring nie. Hy glo egter daar is ruimte vir ander bio-brandstof grondstowwe soos mielies en dat dit voedselsekerheid sal bevoordeel eerder as benadeel. Graan SA sal voortgaan om met die regering hieroor te praat.
"Uiteindelik sal ekonomiese werklikhede bepaal wat die geskikste grondstof is. Markkragte moet dit bepaal."
5 Maart 2008