Die 'perfekte storm' wat gelei het tot rekord-stygings in koringpryse oor die afgelope twaalf maande, sal feitlik ongestoord voortstu, sê die Australiese Buro vir Landbou-ekonomie (ABARE).
Volgens die Australiese landboupublikasie Land verwag ABARE 'n tempering van die hoë prysvlakke van die afgelope drie weke, maar hy voorspel steeds 'n rooskleurige vooruitsig vir koring.
Die organisasie skryf dit hoofsaaklik toe aan die lae wêreldvoorraadvlakke en 'n verhoogde verbruik vir voedsel sowel as bio-brandstof.
ABARE sê nietemin koringprodusente moet hulle voorberei vir 'n insinking in die middel van die jaar, wanneer die gevaar vir oesmislukkings in die Noordelike Halfrond verby is. Lae wêreldvoorrade, selfs met 'n toename van 3% in die internasionale oes, sal pryse nietemin op hoë vlakke hou.
Die organisasie voorspel ook dat Australiese boere hierdie gunstige omstandighede so ver as moontlik sal benut, met aanplantings wat met tot 1 miljoen hektaar kan styg. ABARE se oesskatting vir die nuwe seisoen het ook bykans verdubbel tot net onder 26 miljoen ton.
6 Maart 2008