Landbou
SA het sy boere nodig - Zuma
Deur NICO VAN BURICK

"My belangrikste boodskap aan julle is dat Suid-Afrika julle nodig het. Ons wil hê julle moet suksesvol wees in die belangrike werk wat julle doen. Ons moet saamwerk om graanboerdery suksesvol ter maak ter wille van die hele Suid-Afrika en toekomstige generasies."

Dít was die boodskap van mnr. Jacob Zuma, eerste ANC-president wat 'n kongres van Graan SA toegespreek het. Zuma het op Nampo-park, buite Bothaville, gesê hy glo in dialoog en dat geen kwessie nie deur onderhandeling opgelos kan word nie. Dit is wanneer daar nie gepraat word nie dat mense in 'n wêreld van aannames en suspisie leef.

Hy sê dit is die begin van 'n proses om betrokke te raak en sy deur staan oop vir Graan SA. "Moet nie bang wees om eendag Jacob Zuma te roep om die saak te bespreek as daar 'n probleem is nie, met ander woorde om die lyn van kommunikasie korter te maak nie."

Hy het ook sy kommer uitgespreek oor stygende voedselpryse en gesê die ANC is vasbeslote om soveel ondersteuning as moontlik aan boere te gee om die kommersiële boerderysektor so produktief en suksesvol moontlik te maak.

Hy sê daar gaan nie aan die bestaande regeringsbeleid getorring word nie. Waar daar probleme opduik, moet dit bespreek word. Soms is dit die vertragings in implementering wat die indruk wek 'n beleid is nie goed nie. Soms wil mense 'n beleid verander omdat hulle dink dit nie werk nie, maar dan is dit nog nie werklik geïmplementeer nie.

Hy sê iets in die Regering moet reggemaak word. Hierdie wiel wat te stadig draai moet reggemaak word en die werk moet ordentlik gemonitor word.

Zuma is bekommerd oor boere wat blootgestel is aan gewelddadige misdaad, maar daar is ook mense in landelike gebiede wat kwesbaar teen uitbuiting en misbruik is. "Ons moet beslis wees en sê ons sal nie misdadigheid van enige aard toelaat nie. Ons sal nie aanvalle op boere, plaaswerkers of huurarbeiders verdra nie."

7 Maart 2008