Limpopo se boeregemeenskap het gemengde gevoelens oor 'n klopjag wat onlangs deur die Departement van Arbeid, die Departement van Binnelandse Sake, die polisie en die Menseregtekommissie uitgevoer is.
Die doel van die klopjag was om 'n bende wat onwettige Zimbabwiese immigrante vir goedkoop arbeid uitbuit, te stuit. Talle plase in naby Musina is vir hierdie doel geïnspekteer.
Arbeidswetgewing is egter op van die plase waar wettige immigrante en Suid-Afrikaners werksaam was, oortree, sê me. Zolisa Sigabi, woordvoerder vir die Departement van Arbeid. Op een plaas het die polisie blykbaar 47 onwettige immigrante in hegtenis geneem. Van hierdie inhegtenisnemings het net een immigrant nie ontsnap nie. Hy is gedeporteer.
In 'n persverklaring sê Sigabi dat hierdie werkers saam met 51 Suid-Afrikaners vir 'n maandelikse salaris van R330 tot R1 200 werk. "Daar is ook gevind dat hierdie spesifieke werkgewer, wat nie by die werkplek was nie, ook arbeidswette omseil met betrekking tot oortyd."
"Boere kan nie anders as om te dink dat dit (die ondersoek) moedswillig is nie. Twee van die plase wat besoek is, se slotte is geknip om toegang tot die persele te kry," het mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die TLU SA se distrikslandbou-unie Noord-Soutpansberg, gesê.
Hoewel die TLU SA nie empatie het vir boere wat die arbeidswet oortree nie, wil Hoffman weet waarom die staat nie die georganiseerde landbou-unies betrek het nie.
Daar is 'n paar aspekte rondom die inspeksies wat Hoffman pla. "Dit was vreemd dat die Menseregtekommissie die klopjag meegemaak het. Het hulle dan kant gekies?"
Hoffman wys daarop dat grondeienaars ook regte het wat oortree is deur gedwonge ingang. "Hoe is dit moontlik om bevindinge rondom lone te maak sonder dat die werkgewer naby is?
"Die manier waarop talle plase egter besoek is, is onaanvaarbaar. Dit grens aan moedswilligheid en ons beskou dit as intimidasie," het Hoffman gesê.
Landbouweekblad, 14 Maart 2008