Inflasie van produksiekoste is die grootste probleem wat graanboere in die gesig staar. Dit kan graanproduksie in Suid-Afrika op die lang duur ernstig benadeel, sê mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA.
Hy het in 'n aanbieding oor Graan SA op die organisasie se kongres gesê die afgeleide voedselprysinflasie kan tot verwydering van verbruikers teenoor boere lei. Heelwat aandag moet gegee word aan 'n bewusmakingsveldtog om boerdery as onderneming by verbruikers te verduidelik.
"Ander belanghebbendes in die waardeketting moet ook inkoop om die beeld van die boer en die landbou te verbeter. Boere wil bekostigbare kos op borde sit, maar ook steeds 'n wins toon."
Dr. Kobus Laubscher, hoofbestuurder van Graan SA, sê boere sal anders moet begin dink oor die landbou en dit anders posisioneer om winsgewend te bly. "Ons sal meer met minder moet doen en Graan SA wil 'n rol speel om dit moontlik te maak."
Graan SA wil sodanige verskil maak dat "rugryers" wat nie lede is nie, vrywillig hul gewig by die organisasie sal ingooi.
Ferreira sê produsente moet ook byeen kom en uit een mond praat om die makro-ekonomiese klimaat te kan beïnvloed sodat winsgewende boerdery steeds moontlik is. Hulle moet help dat die regte besluite betyds deur belanghebbendes en die Regering geneem word sodat winsgewendheid, in belang van die hele bevolking nie in gedrang kom nie.
Landbouweekblad, 14 Maart 2008