Landbou
Kos al hoe duurder
ANDRIES GROENEWALD

Kos in Suid-Afrika word al hoe duurder. Die prys het die afgelope jaar met meer as 10% getyg, sê die Landboubemarkingsraad (NLBR).

Volgens die NLBR se verbruikersprysindeks het kospryse vanaf Januarie 2007 tot Januarie 2008 met 13,4% gestyg.

Onder die voedselkategorieë wat die meeste tot hierdie styging bygedra het, tel graanprodukte, melk, kaas, eiers, vette en olies, vrugte en neute asook groentesoorte.

Gesien uit die hoek van voedselsekerheid het die prys van stapelkossoorte relatief vinnig in die afgelope jaar gestyg. Die toename in die prys van bruin- en witbrood was onderskeidelik 16,21% en 19,92%. Die prys van 'n sak van 5 kg Super- en Special-mieliemeel het met onderskeidelik 22,28% en 28% gestyg.

Die prys van melkprodukte het met gemiddeld 33,36% gestyg, terwyl die prys van vleis veel stadiger gestyg het as die meeste ander voedselsoorte.

Die pryse van die belangrikste groentesoorte het met gemiddeld 38,22% gestyg. Die toename in graanpryse kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die druk op internasionale en plaaslike graanvoorrade, terwyl die klimaat in 'n groot mate vir die styging in groentepryse verantwoordelik gehou word.

Landbouweekblad, 14 Maart 2008