Die beperkings wat Eskom stel op bouprojekte wat meer krag as 'n woonhuis benodig, gaan ook ernstige nadele vir landbou-ontwikkeling hê, sê mnr. Mike Schüssler, ekonoom van Q-sec.
Eskom het verlede week op 'n vergadering van sakelui in Johannesburg gesê geen nuwe ontwikkeling wat elektrisiteit van meer as 400 kWh benodig, kan in die volgende vier maande tot ses maande toegelaat word nie. Schüssler, wat op die vergadering teenwoordig was, het daarna op Graan SA se kongres gesê dit hou ernstige gevolge vir landbou-ontwikkeling in op 'n tydstip waa dit goed gaan met dié sektor.
"Geen nuwe pakhuise, verkoelingsgeriewe, besproeiingstelsels of ander ontwikkelings waarvoor baie krag nodig is, is moontlik nie. Om dit erger te maak, verwag Eskom dat dié probleem hom volgende jaar gaan herhaal."
Schüssler sê hierdie beperking gaan 'n nadelige uitwerking op talle terreine en die ekonomie in die algemeen hê. "Daar kan geen werkskepping wees nie en koste word opgejaag. Om krag met 'n dieselkragopwekker op te wek, kos tien maal meer as Eskom-krag."
Hy sê investering in die land het die afgelope paar jaar drasties toegeneem, maar nie van die staat se kant af nie. "Iemand wat belê, glo in die toekoms en volgens die syfers lyk dit of net die private sektor vertroue in Suid-Afrika se toekoms het."
Wat die landbousekor betref, meen hy die onmiddellike toekoms lyk rooskleurig. "Daar was 'n groot en vinnige opswaaifase in die meeste groot voedselkommoditeite. Alles werk egter in siklusse en dit moet oor tyd weer afplat. Die opswaai word deur ontluikende wêreldmarkte en die vraag na biobrandstof ondersteun."
Landbouweekblad, 14 Maart 2008