Graan Suid-Afrika beoog om in vennootskap met die georganiseerde landbou daadwerklike stappe te doen om die implementering van die Sektorplan vir die Landbou af te dwing.
Mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA, sê daar word kwartaaliks met pres. Thabo Mbeki oor vordering gepraat, maar in werklikheid is baie min tot uitvoering gebring. Dit het 'n slegte invloed op die landbou en daarsonder kan die landbou nie groei nie.
Hy het op Graan SA se kongres gesê die Regering se kommer oor hoë voedselpryse en voedselsekerheid skep die geleentheid om met die sektorplan voort te gaan. Die Regering se planne het opgeraak en daar is nou die geleentheid om deel van die oplossing te wees.
Mnr. Louw Steytler, ondervoorsitter, het gesê Mbeki het gevra vir 'n vennootskap, maar in wese bestaan dit nog nie. "Ál die bekommernisse van die landbousektor word in die sektorplan vervat. Saam met die Grondwet is dit magtige instrumente en ons moet die Vader dank dat ons dit het."
Landbouweekblad, 14 Maart 2008