Agterdog bestaan oor die motiewe agter die gerug dat saadmielies wat met geneties gemodifiseerde (GM) saad gemeng is, in Kenia aangekom het.
Mnr. Willem Engelbrecht, hoofbestuurder van Pioneer Hi-Bred SA, sê hy vertrou nie die vrede oor die Afrikasentrum vir Biodiversiteit se bewering dat saad van Pioneer in Kenia aangekom het waarin sade van GM kultivars ook voorkom. GM mielies mag nog nie in Kenia verbou word nie, maar dié land gaan glo eersdaags wetgewing oorweeg.
Die sentrum sê die besending saad wat onlangs deur Pioneer van Suid-Afrika na Kenia uitgevoer is, bevat die GM geeneienskap vir stronkboorderweerstand MON810 wat aan Monsanto behoort. Greenpeace het glo die saad opgespoor en monsters laat toets.
Engelbrecht sê die betrokke saad is in 2006 na Kenia gestuur. Greenpeace weier om te sê watter persentasie GM saad daarin voorkom. Trouens, dié organisasie weier om enigsins inligting te verskaf.
Me. Miriam Mayet, direkteur van die Afrikasentrum vir Bioveiligheid, beweer 'n deel van die skuld vir die "skandaal" moet voor die Suid-Afrikaanse Regering se deur gelê word, wat die uitvoer goedgekeur het.
Pioneer sê hy het egter 'n wettige uitvoerpermit bekom. Volgens mnr. Jeff Johnson, bemarkingsbestuurder van Pioneer, word ál hul saad ingevolge internasionale standaarde geproduseer en vir die teenwoordigheid van Bt-materiaal getoets voor dit versend word. Die toetsprotokol voldoen aan uiters hoë standaarde. Die kans is egter nie uitgesluit dat uiters klein hoeveelhede Bt-materiaal (dus 'n toevallige teenwoordigheid) in die produksie- of hanteringsproses met ander saad kan vermeng nie. Selfs die teenwoordigheid van stof afkomstig van GM saad kan in 'n saadmonster opgespoor word.
Landbouweekblad, 14 Maart 2008