'n Fynwolprodusent van Cathcart, mnr. Bruce Dewing en sy seun Stuart van die plaas Highlands is in Port Elizabeth as die wenner van die vierde Zegna VA Challenge-kompetisie vir die beste vag in die kategorie 14 tot 17,9 mikron aangewys.
Die naaswenner is mnre. Carlie en Jules van Aardt van Cookhouse met mnr. Donald Young van Kokstad in die derde plek.
Altesame 128 vagte is ingeskryf en die mededinging om die top-posisie was straf. Die wenvag, wat 17 mikron gemeet het, het 90,6 punte behaal teenoor die naaswenner se 90,4 punte. Mnr. Young se vag het 89,8 punte behaal. Punte is volgens 'n punteskaal toegeken vir veseldikte (50), gewig (15), gehalte (15), treksterkte (10) en eenvormingheid van stapel (10).
Die Dewings se vag is reeds na Australië vir die finale beoordeling versend waar dit teen die wenvagte van Nieu-Seeland en Argentinië sal meeding. Die wenner sal tydens 'n glansgeleentheid op 26 April in Sydney, Australië, bekend gemaak word.
7 Maart 2008