Landbou
Zuma wil misdaad vasvat


"Mnr. Jacob Zuma se uitsprake dat misdaad 'n krisis is en dat daar te veel fokus is op die regte van misdadigers, word verwelkom. Zuma se versoek dat meer radikale wetgewing nodig is om misdaad te bekamp, weens die feit dat die doodstraf nie geld nie, is die regte benadering om misdaad vas te vat in Suid-Afrika", sê mnr. Pieter Groenewald (LP), hoofwoordvoerder van veiligheid en sekuriteit vir die Vryheidsfront Plus.

Zuma het dié opmerkings gemaak by 'n forum wat gereël is deur hoof-rabbi Warren Goldstein in Johannesburg. Hy het gereageer op vrae oor hoe hy misdaad sal beveg in Suid-Afrika. Zuma het by die geleentheid ook gesê dat die polisie meer sigbaar moet wees op straat en dat polisielede beter salarisse betaal moet word.

"Dit is sulke opmerkings wat die publiek wil hoor van leiers. Dit is in teenstelling met opmerkings van pres. Mbeki en mnr. Charles Nqakula wat verskonings en ontkennings oor die krisis van misdaad in ons land opper. Hierdie opmerkings behoort ook 'n sterk boodskap aan misdadigers te stuur dat daar teen hulle opgetree sal word. Opmerkings alleen is egter nie genoeg nie en moet in die praktyk uitgevoer word", het Groenewald gesê.

10 Maart 2008