Die Land Bank se hoof finansiële beampte, mnr. Xolile Ncame, is nie geskors óf afgedank nie. Verder het hy nie bedank nie.
Dít het mnr. Herman Moeketsi, die bank se bemarkingshoof by navraag gesê.
Landbouweekblad het verneem Ncame is na bewering verlede week afgedank, hoewel hy glo voorhou dat hy al in November 2007 "mondelings" bedank het.
Ncame is een van die amptenare, saam met voormalige hoof uitvoerende beampte, mnr. Alan Mukoki, wat in April verlede jaar tydelik geskors is weens beweerde wanbestuur. Mukoki se naam word glo in die onderdrukte forensiese verslag na ongerymdhede in die Land Bank genoem.
Ncame is sowat 'n maand ná sy skorsing in 2007 weer deur Minister Lulu Xingwana in sy pos herstel. Hy is 'n geoktrooieerde rekenmeester.
10 Maart 2008