Landbou
Wolprys bly stabiel
Deur ONA VILJOEN

Wolpryse het op die laaste veiling voor die Paasreses feitlik onveranderd gebly en Cape Wools se Merino-aanwyser het met 'n skrale 0,6% laer op R69,52/kg (skoon) gesluit.

Die rand, wat wisselvallig bly, was ietwat sterker teenoor die Amerikaanse dollar, maar swakker teenoor die euro vergeleke met die vorige week se veiling.

Die meeste langwoltipes het effens goedkoper verhandel, maar 19 mikron en 20 mikron was onder groter druk as die ander kategorieë en het met tussen 1% en 2% gedaal.

Altesame 10 430 bale is aangebied waarvan 96% verkoop is.

Gemiddelde prysbewegings van AWEX-tipes MF4 en MF5 van 70 mm en 80 mm was soos volg: 19 mikron daal met 1,2% tot R86,98/kg; 20 mikron was 2,3% goedkoper op R75,53/kg, 21 mikron verswak met 0,6% tot R70,85/kg, 22 mikron sak met 0,8% terug tot R69,22/kg en 23 mikron daal met 0,9 % tot R67,73/kg. Daar was geen kwotasies vir 24 mikron en 25 mikron in dié bepaalde tipes nie.

Veilings hervat weer op 2 April wanneer sowat 15 000 bale onder die hamer kom.

13 Maart 2008