Landbou
Staat 'lieg' oor tabak
Deur ISABEL STOLTZ

Die tabakbedryf is hewig onsteld oor voorgenome wysigings aan die Wet op die Beheer van Tabakprodukte wat sonder sy deelname "op 'n onprofessionele manier" op 11 Maart aan die parlementêre portefeuljekomitte vir gesondheid voorgelê is.

Die Departement van Gesondheid probeer drakoniese wetgewing ondemokraties deurdruk sonder om die tabakbedryf daarin te ken, hoewel die voorgenome wysigings vir die beheer van tabakprodukte verreikende gevolge vir die hele waardeketting inhou, sê mnr. Francois van der Merwe, voorsitter en uitvoerende beampte van die Tabakinstituut van Suid-Afrika (TISA).

Hy het sy uiterste ontsteltenis uitgespreek oor die werkwyse van die department wat die wetsontwerp op 9 Maart slegs in 'n Engelstalige Sondagkoerant geadverteer het vir skriftelike vertoë wat teen 20 Maart gelewer moet word vir openbare sittings op 25 en 26 Maart. Die wetsontwerp was eers op 10 Maart by die Staatsdrukker beskikbaar.

"Dit gee rolspelers 9 dae tyd om skriftelik te reageer en vyf dae later mondelinge vertoë te lewer. Dit maak demokratiese beginsels belaglik en mors die Parlement se tyd," sê Van der Merwe. Die departement gee voor dat hy met die bedryf onderhandel het oor die wysigings, maar volgens Van der Merwe is dit 'n blatante leuen.

Die wysigings se voorstelle kom daarop neer dat die totale reeks van die bedryf se aktiwiteite só streng gereguleer word dat dit vir rolspelers baie moeilik sal wees om sake te doen. Dit wil die bedryf selfs verbied om betrokke te wees by sosio-ekonomiese opheffing in gemeenskappe, sê Van der Merwe.

Die tabakbedryf kon nie die portefeuljekomitee toespreek nie, maar 'n brief waarin die bedryf sy misnoeë oor die kwessie uitspreek, is aan die komitee oorhandig.

13 Maart 2008