Die handves vir swart bemagtiging in die landbou is pas deur mnr. Mandisi Mpahlwa, Minister van Handel en Nywerheid, onderteken. Dit kom ná maande wat dit in dié minister se kantoor lê.
Nou kan dit as 'n seksie 12-handves, ingevolge die Wet op Swart Ekonomiese Bemagtiging, Wet 53 van 2003, in die Staatskoerant aangekondig word. 'n Seksie-9 handves behels 'n strenger afdwingbare regstatus. Die staat is nie so betrokke in 'n seksie 12-handves nie hoewel hy genooi kan word deur rolspelers om 'n bydra te lewer.
Mnr. Masiphula Mbongwa, direkteur-generaal van Landbou, het by navraag gesê sodra dit in die Staatskoerant aangekondig word, kan die rolspelers in die private sektor onderling verantwoordbaar gehou word vir dit wat in hul telkaarte ooreengekom is. So kan die privaatsektor, soos produsente, die Regering ook verantwoordbaar hou wanneer bewys word dat wel aan besondere telkaarte gehoor gegee word.
Me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, het by die Nasionale Raad van Provinsies se parlementsbesoek aan die Noordwes-provinsie en Gauteng gesê sy wag "ongeduldig" vir die publisering van dié handves.
13 Maart 2008