Die nuwe hoof van landbou by Eerste Nasionale Bank (ENB), mnr. Louis van der Merwe, is daartoe verbind om dié bank se markaandeel in die landbou verder te verhoog.
Van der Merwe is in mnr. Ernst Janovsky se plek aangestel.
Volgens Van der Merwe is sowat 33% van die landbou-markaandeel na gelang van hoe die berekening gedoen word reeds in ENB se hande.
ENB is oortuig daarvan dat die landbou in die begin van 'n blomseisoen is en het daarom besluit dat dit een van die bank se drie belangrikste voorrangsake moet wees. Die ander twee is toerisme en franchises. "ENB fokus spesifiek op hierdie gebiede omdat ons van mening is dat daar goeie groeipotensiaal in hierdie sektore bestaan," het Van der Merwe gesê.
Die grootste deel van ENB se nuwe sake kom van bestaande kliënte. "Ons is in die proses om 'n strategie te implementeer waardeur ons wil verseker dat ons so min as moontlike kliënte sal verloor," het Van der Merwe gesê. Hy sal graag wil hê dat hul huidige kliënte hul beste advertensie moet wees.
Landbouweekblad, 21 Maart 2008