'n Internasionale maatskappy wat hom beywer om wêreldwyd biodiesel uit die purgeerboontjie (Jatropha curcas) te vervaardig, sê hy gaan nie meer "energie mors om in Suid-Afrika betrokke te probeer raak nie".
Mnr. Gjalt Hooghiemstra, landbou-streeksdirekteur van D1-BP Fuel Crops, sê die situasie met die Suid-Afrikaanse owerhede het totaal belaglik geraak. "Daar is genoeg ander plekke waarop ons kan fokus".
Hy het op die Afrika Biobrandstofkonferensie in Midrand gesê sover vasgestel kan word, is die purgeerboontjie nie 'n verklaarde onkruid in Suid-Afrika nie. Die Departement van Landbou sê daar is 'n moratorium op die plant daarvan, maar niemand het die moratorium nog gesien nie. Intussen groei dit vryelik vir jare in Mpumalanga, boere plant dit in Limpopo vir die vervaardiging van biodiesel en daar is 'n groot vraag na saailinge in die land.
Hooghiemstra sê sy maatskappy het tot 300 plante ondersoek wat olie bevat voor hulle op die purgeerboontjie besluit het. Hulle het na 'n grondstof gesoek wat nie vir voedsel benut word nie, maar goeie olie kan lewer. In Swaziland plant kleinboere die purgeerboontjie op 3 000 ha.
Hy sê die gemiddelde kleinboer het sowat 3 ha bewerkbare grond. D1-BP se aanbeveling is dat grond vir voedselproduksie nie met die purgeerboontjie vervang word nie, maar gewoonlik is daar sowat 1 ha wat 'n boer daaraan kan afstaan. Hy meen hoewel daar nog nie 'n prys aan gekoppel kan word nie, sal 'n boer 'n "bestaansloon" daaruit kan verdien.
Landbouweekblad, 21 Maart 2008