Die Land Bank se nuwe direksie, wat verlede week deur die Kabinet goedgekeur is, het wel baie finansiële kennis, maar min oor die kommersiële landbou. Dit maak die georganiseerde landbou ongemaklik, sê mnr. Johan Pienaar, adjunk-uitvoerende direkteur van Agri SA.
Eerw. Otto Mbangula, die National African Farmers' Union se voorsitter in die Vrystaat, het die lys gehaal, maar nie Agri SA se kandidaat nie. Daarop sê Pienaar dat Xingwana 'n "duidelike sein" oor ontwikkeling gestuur het wat Agri SA ondersteun. Hy meen egter die kommersiële sy word duidelik geïgnoreer.
Xingwana het drie keer in drie maande verlede jaar benoemings vir die direksie gevra. Agri SA het twee maal mnr. Jack Raath benoem. Raath was destyds 'n lid van die Strauss-kommissie wat die gesaghebbende ondersoek na landelike finansiering, met die fokus op die Land Bank, in Suid-Afrika gedoen het. Hy was voorheen ook 'n uitvoerende direkteur van Agri SA.
Pienaar sê Agri SA móés nie noodwendig Raath op die direksie kry nie, maar hy kan nie verstaan waarom die minister haar vereistes verander het nie. Sy het glo deurgaans gesê die direksie moet groot landboukennis hê. "Sy het nou grootliks die landboukennis wat nodig is vir die direksie gesystap," het Pienaar gesê.
Ses van die 12 direksielede is herverkies. Die meeste kom uit die regs- en finansiële wêreld. Slegs een is 'n landbou-ekonoom.
Mnr. Themba Langa, prokureur en oud "struggle"-aktivis, is as voorsitter verkies. Prof. Herman van Schalkwyk, dekaan van die fakulteit landbou aan die Universiteit van die Vrystaat, is as ondervoorsitter verkies.
Die ander lede is: Mnre. Malungelo Zilimbola en Bafana Mathidi, albei ontleder van RMB-batebestuur, Modise Motloba, bankier en 'n direkteur van Harmony, Joe Mthimunye, geoktrooieerde rekenmeester en uitvoerende direkteur van AloeCap, Moses Sindane, bankier en vennoot in Ernst & Young, Johannes Potgieter, herverkose lid, mee. Patience Mnxasana, nie-uitvoerende direkteur van Winhold beleggingsmaatskappy, Jesmane Boggenpoel, rekenmeester en voorsitter van Suid-Afrikaanse Vereniging van Belastingspraktiseerders, Thiyeni Ramphele, herverkose lid, Nolwazi Qata, herverkose lid, en dr. Anna Mokgokong, herverkose lid en voormalige mediese dokter.
Landbouweekblad, 21 Maart 2008