Die TLU SA Sentraal-streek het die polisie versoek om die moontlikheid van rassisme teen wittes te ondersoek ná die moord op 'n 82-jarige oupa en sy kleinseun van Bronkhorstspruit.
Die 24-jarige mnr. Isaac Masutu, 'n plaaswerker, het in verband met die moord op mnr. Hendrick Janse van Rensburg en sy 17-jarige kleinseun, Dean Charles Woodraffe, in die hof verskyn.
Mnr. Anthony Scott-Dawkins, voorsitter van die TLU SA Sentraal se veiligheidskomitee, het 'n beroep op boere gedoen om in groot getalle hul teenkanting teen borg vir die beskuldigde by die hof te toon.
Volgens mnr. Chris van Zyl, die TLU SA se bestuurder van veiligheid, het 'n ondersoek na plaasaanvalle so ver terug soos 2003 daarvan melding gemaak dat hoewel roof as die hoofmotief vir plaasaanvalle beskou word, daar tog in sommige gevalle tekens is van politieke motiewe en rassisme.
Hy meen dit kry nie die nodige aandag in ondersoeke nie.
Die ondersoek, wat destyds deur die Minister van Veiligheid en Sekuriteit gelas is op versoek van georganiseerde landbou, het ook bevind dat aanvalle op boere gewelddadiger as byvoorbeeld dié tydens gewone huisbrake is en dat boere 'n groter kans staan om vermoor te word tydens sulke aanvalle.
Volgens die jongste misdaadsyfers wat in September verlede jaar bekend gemaak is, het aanvalle op plase in 2006/'07 met 24,8% toegeneem in vergelyking met die syfers in 2005/'06.
Gewelddadige plaasaanvalle het met 94,1% beduidend toegeneem in Noordwes van 68 tot 132 in dié tyd, asook in die Vrystaat met 63,3 % (van 30 tot 49 gevalle). In Gauteng het dit gestyg met 57,2 % (van 215 tot 338 aanvalle) en in KwaZulu-Natal met 39 % van 59 tot 82 aanvalle.
Dit is egter bekend dat plaasaanvalle en moorde sedertdien skerp toegeneem in veral Limpopo. Volgens me. Marie Helm, bestuurder van die TLU SA Noord, is 17 plaasaanvalle sedert 1 November verlede jaar aangemeld, waartydens vyf moorde gepleeg is.
Landbouweekblad, 21 Maart 2008