Die beoogde tolpaaie in die Kaapse-metropool kan die sagtevrugtebedryf hard slaan. Die owerhede behoort deeglik te besin voor dit gefinaliseer word, sê prof. Daan Louw van Optimale Agri Besigheidstelsels (OABS) in die Paarl.
Dié onderneming het 'n geprojekteerde impakstudie voltooi om te bepaal wat dit die vrugtebedryf aan tolpaaie sal kos.
Die SA Nasionale Paaie-agentskap het einde verlede maand bekend gemaak dat 'n hersiene weergawe vir die konstruksie en opgradering van die beoogde Wynland-projek ter tafel gelê is. Dié projek maak voorsiening vir die oprigting van tolhekke tussen die R300 en Sandhills op die N1 en tussen die R300 en Botrivier op die N2.
Volgens Louw behoort die reeds hemelhoë brandstofheffing gebruik te word vir die onderhoud van die N1 en die N2. Dit sou onregverdig wees om te verwag dat die verbruiker en landbouprodusent weer 'n keer moet betaal, nadat reeds soveel tot die brandstofheffing bygedra word.
As konserwatief geprojekteer word dat 'n retoerrit deur 'n tolhek R100 sou kos, sal dit produsente meer as R4,2 miljoen per jaar net aan tolkoste uit die sak jaag. Dit is bykans 25% van die koste wat die bedryf op navorsing bestee.
Landbouweekblad, 21 Maart 2008