Landbou
Sexwale koop Bloemendal
AMELIA GENIS

Die bekende sakeman en oud-politikus, mnr. Tokyo Sexwale, is die nuwe gesig op die Durbanville-wynroete nadat hy die wynlandgoed Bloemendal van die Coetzee-familie gekoop het.

Indima, die landboufiliaal van Sexwale se maatskappy Mvelaphanda Holdings, het Bloemendal vir R105 miljoen gekoop.

Volgens mnr. Chris Vick, Sexwale se segsman, wil hulle dit as 'n wynplaas bedryf. Hulle sal voortgaan met die bestaande bedrywighede en werknemers.

Hoewel die plaas namens Sexwale bestuur sal word, het Sexwale tog 'n groot belangstelling in wyn en sal hy by die "finale produk" betrokke raak, sê Vick.

Vanweë die gebied se nabyheid aan Kaapstad, is inwoners van Durbanville gesteld daarop dat daar nie meer grond aan residensiële ontwikkeling afgestaan word nie.

Landbouweekblad, 21 Maart 2008