Wêreldwyd sal 2007/08 waarskynlik onthou word as 'n waterskeidingsjaar wat die landbou en voedselsekuriteit bo-aan politieke sakelyste geplaas het.
Só sê mnr. Tertius Carstens, voorsitter van die Meulenaarskamer, in die kamer se jaarverslag.
"Ons is nou in 'n situasie waar waar die huidige geslag meulenaars nog nie was nie. Kenmerkend van die huidige situasie is die buitengewoon klein graanvoorraad oral ter wêreld, die buitengewoon hoë pryse, uitdagings om probleme met kragvoorsiening te bowe te kom en 'n sukkelende grootmaat-graanvervoerstelsel."
Veral koring is 'n bron van kommer vir meulenaars. Na aanleiding van media- en openbare reaksie op stygende broodpryse het verskeie lede van die koringbedryf - insluitend die meulenaars- en bakkerskamers - die Minister van Landbou gaan spreek.
In die verslagjaar was daar ook groot woelinge ten opsigte van klagte van prysknoeiery en kartelvorming. Die maalbedryf moet dus besef dat hy 'n ver pad sal moet loop ten opsigte van sake-etiek om weer die publiek se vertroue te wen na die mediadekking oor beweerde kartelvorming, het Carstens gesê.
Landbouweekblad, 28 Maart 2008