Landbou
Feite moet GM-regulasies bepaal
NICO VAN BURICK

Regulasies vir die beheer van geneties gemodifiseerde (GM) gewasse moet op wetenskaplike werklikhede gegrond word en nie op mense se vrese nie, anders is dit tot niemand se voordeel nie.

Dr. Nina Fedoroff, wetenskap- en tegnologie-raadgewer van me. Condoleezza Rice, Amerikaanse minister van buitelandse sake, sê die regulatoriese proses vir biotegnologie in Amerika is te duur en veroorsaak dat net groot multinasionale maatskappye daarby kan baat vind. Sy het op 'n funksie van Africa Bio in Centurion gesê kleiner wetenskaplikes kan nie betrokke raak nie omdat die prosesse vir goedkeuring te duur en omslagtig is.

Sy sê mense wil eerder die ongunstige dinge glo oor GM produkte. Aan die een kant is daar die siening dat regulering streng is om mense gerus te stel dat daar nie fout is met GM produkte nie en aan die ander kant word gemeen as die regulering dan só streng is, moet daar mos 'n probleem wees.

Sy sê as die koste van regulering in bedwang gebring kan word, kan meer wetenskaplikes en instansies soos universiteite by navorsing betrokke raak. "Maatskappye wil geld maak en hulle fokus net op gewasse wat vir hulle geld kan inbring."

Fedoroff meen dit is onverklaarbaar dat mense wat die natuur wil beskerm, teen biotegnologie gekant kan wees. "Die beste manier om biodiversiteit te bewaar, is om hoër opbrengste op dieselfde grond te kry. Daar is niks erger as om natuurlike woude te vernietig net om meer kos te kan produseer nie. Dit is bykans onmoontlik om vandag voedselproduksie te verhoog sonder om wetenskap te benut nie."

Van die biotegnologiese ontwikkelinge wat kom, is droogteverdraagsame plante wat waarskynlik binne 'n jaar 'n werklikheid sal wees, verdere weerstand teen peste en plae, verbeterde opname van stikstof en voedingstowwe en hoër voedingswaarde van gewasse.

Landbouweekblad, 28 Maart 2008