Landbou
Prysskokke laat boere steier
Deur ANDRIES GOUWS

Onderwyl die landbou steier onder prysskokke, het mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA, gewaarsku dat dit 'n kettingreaksie kan veroorsaak wat inflasie verder gaan opjaag, grond kan marginaliseer, produksievermoë in die gedrang kan bring en die armes in die land baie swaar kan tref.

Feitlik alle insette vir graanverbouing het duurder geword wat alles bydra tot die styging van voedselinflasie wat 'n groot rol speel om die inflasiekoers van die land op te jaag, wat rentekoerse laat styg en groei demp.

As gevolg van die duurder insette kan sekere landbougrond gemarginaliseer word as die pryse aan die uitsetkant (produkte) nie ook in verhouding styg nie. Dit maak kos duurder wat meebring dat die landboubedryf deur die regering gekritiseer word en uiteindelik die armes swaarder laat kry.

Volgens die jongste kostebegrotings vir koring wat in die komende paar maande geplant gaan word en waarby die jongste dieselprysverhoging nie ingereken is nie, gaan die veranderlike koste met gemiddeld 63% styg.

Die vooruitsig is dat die produksiekoste vir somergrane, wat in Oktober vanjaar gevestig gaan word, met tussen 30% en 50% gaan toeneem. Hieroor bestaan egter groot onsekerheid omdat dié toename grootliks beïnvloed kan word deur wat van nou af tot Oktober met planttyd kan gebeur.

27 Maart 2008