Landbou
'Weer duur brandstof af en produseer self'
LUCILLE BOTHA

Daar is aanduidings dat die petrolprys in April met soveel as 70c/liter en die dieselprys met sowat R1,30/liter gaan styg. Nogtans is regeringsbeleid rondom biobrandstof "belaglik" en "gaan Suid-Afrika nêrens kom daarmee nie", sê mnr. Fanie Brink, besturende direkteur van Biofuels Industry Development.

Hy het op Vunani Securities se voedselkonferensie in Kaapstad gesê Suid-Afrika stuur op 'n ernstige brandstof- en voedselkrisis af as die Regering nie dringende stappe doen om dit af te weer nie.

Hy het vinger gewys na die Regering en gesê boere sal hul eie brandstof moet vervaardig. Volgens hom kan Suid-Afrikaanse produsente etanol van mielies produseer mits die prys reg is.

Hy sê 'n goeie duimreël om te volg is dat die etanolprys 2,6 keer hoër as die prys van mielies moet wees en 2,4 keer meer as die sonneblomprys.

As die petrolprys in April die rekordvlak van R9 bereik, behoort boere steeds etanol te kan produseer teen R6/liter, selfs al verhandel mielies teen R2 000 per ton. Dit is 'n besparing van R3/liter vir verbruikers.

Hy meen Suid-Afrika kan baie meer mielies, graansorghum en oliesade produseer om meer as 'n miljard liter brandstof per jaar te vervaardig. Selfs meer as dit kan vervaardig word as bio-etanol ook uit sellulose vervaardig word. Dit behoort verligting vir die hoë brandstofprys te bring en sal produsente ook in 'n gunstiger posisie plaas.

"Die Regering moet dit regtig ernstig oorweeg," het Brink gesê.

Volgens hom kan Suid-Afrika nie aanhou om afhanklik van invoer te wees nie, maar moet kos en brandstof eerder self geproduseer word.

"Die Regering se beleid is belaglik. Ons gaan nêrens in Suid-Afrika kom met biobrandstof nie. Ek is ook bekommerd oor voedselsekuriteit in Afrika. Ongelukkig is ons groot probleem steeds politieke mislukking en ek weet nie hoe ons dit gaan oplos nie."

Dit pla hom dat Amerika reeds gesê het hy sal voortaan nie meer landbouprodukte aan Afrika skenk nie, maar eerder finansiële bystand verleen. Amerika wil sy surplus graan en oliesade eerder aanwend vir die vervaardiging van biobrandstof.

Landbouweekblad, 4 April 2008